Programvoorstelle vir KKNK 2023 ingewag

Die 27ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) word van 1 tot 9 April 2023 op Oudtshoorn aangebied en programvoorstelle vir dié fees word ingewag.

Die 27ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) word van 1 tot 9 April 2023 op Oudtshoorn aangebied en programvoorstelle vir dié fees word ingewag.

“Alle kreatiewe skeppers, kunstenaars, vervaardigers en musikante word uitgenooi om voorstelle vir volgende jaar se KKNK in te dien. Ons is op soek na innoverende en kreatiewe voorstelle om op die feesprogram in te sluit”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Volgens Theart stel die programspan belang in teater, musiek, straatteater en -kuns, visuele kuns, optredes op die feesterrein se musiekverhoë, opelugkonserte, asook Klein Karooervarings wat die Klein Karoo en Oudtshoorn se natuurskoon, geskiedenis en gehalte produkte vertoon. “ ’n Breë spektrum van feesgangers word met die samestelling van die feesaanbod geteiken en moontlikhede vir almal word ondersoek”, sê hy.

Elemente in voorstelle wat voorkeur geniet, sluit onder meer innovasie, debuutwerke, nuutgeskrewe tekste en musiek, eg-Suid-Afrikaanse stories, konseptuele werke en interessante kombinasies in. As ’n nasionale kunstefees is dit die KKNK se doel om ’n platform te wees wat uitnemende, professionele werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars aanbied. Die fees skep ook platforms vir nie-professionele of amateur optredes en die fokus val hier veral op Oudtshoorn en sy omgewing.

Interessante voorstelle vir gespreksreekse of kreatiewe werksessies kan direk aan Theart gestuur word by hugo@kunste.org.za, asook idees wat geoormerk kan word vir toekomstige ontwikkeling vir die fees in 2024 en 2025.

Programvoorstelle kan so gou moontlik aanlyn ingedien word, behalwe indien anders vermeld, en die proses is eenvoudig. Die voorstelvorm, asook ’n volledige lys van programriglyne, is beskikbaar by www.kknk.co.za. Dié vorm moet volledig ingevul word.

Die sluitingsdatum vir alle voorstelle is Sondag 11 September 2022.

 

Vir enige algemene navrae, kontak Lizané Basson by lizane@kunste.org.za of 044 203 8600 en met enige navrae oor die programriglyne, of spesifieke voorstelle of idees vir programinhoud, kontak Theart direk by hugo@kunste.org.za.