ReWOLusie en Oudtshoorn Rotariërs leef Ubuntu uit in Desember

Die KKNK se ReWOLusie span vanjaar vir die tweede keer kragte saam met die Oudtshoorn Rotariërs om ’n verskil in die lewens van kleuters uit die Oudtshoorn-omgewing te maak.

Die KKNK se ReWOLusie span vanjaar vir die tweede keer kragte saam met die Oudtshoorn Rotariërs om ’n verskil in die lewens van kleuters uit die Oudtshoorn-omgewing te maak.

Die Oudtshoorn Rotariërs Krismisboks-projek poog jaarliks om ’n glimlag op die gesiggies van kleuters in en om Oudtshoorn te sit. Lezelma Pretorius, organiseerder namens die Oudtshoorn Rotariërs, sê hulle Krismisboks-projek het in 2015 begin en deel jaarliks bokse aan minderbevoorregte kleuterskole in die Oudtshoorn-distrik uit.

Gebreide of gehekelde wol speelgoed, wat met baie liefde deur die ReWOLusie-vrywilligers gemaak is, word by dié Krismisbokse ingesluit. Tientalle breiers van regoor die Suid-Kaap kom reeds sedert 10 September byeen om mekaar by te staan met verskillende patrone om pragtige beertjies en ander speelgoed te brei en hekel.

Pretorius sê alhoewel die kinders altyd opgewonde is oor die bokse, wou hulle graag iets spesiaal soos ’n speelding bysit. “Ek het in 2021 begin hekel en gedink dit sal wonderlik wees om vir elke kleuter ’n sagte speelding te gee. Madeleine Miles, ReWOLusie-stigter, het voorgestel dat ek die KKNK en ReWOLusie nader, aangesien hulle reeds ’n groot groep vlytige dames het wat kan hekel en brei.”

ReWOLusie se rol by die Krismisboks-projek is onvervangbaar. Ons kon verlede jaar danksy ReWOLusie 550 beertjies uitdeel. Dit het ons verwagtinge totaal oortref. Sonder hulle sou ons dit beslis nie met soveel sukses kon aanpak nie.” Daar is vanjaar reeds meer as 800 beertjies gebrei en gehekel.

Hoe die gemeenskap met hierdie projek saamstaan, is vir Pretorius ’n wonderlike aanduiding van ware ubuntu. “Elke persoon kan ’n bydrae maak om ’n kind se hart bly te maak. Die vreugde en liefde wat ons aan ons eie gemeenskap se kinders kan uitdeel is regtig priceless,” sluit sy af.

Annie Boesak, voorsitter van die Lelies van Eden op Oudtshoorn wat deel van ReWOLusie is, sê sy sien ook daarna uit om die glimlaggies op die skaam gesiggies te sien en drukkies te kry wanneer die beertjies uitgedeel word. “Wat ’n voorreg om ’n bydrae daartoe te maak dat ’n kind se hartjie weer warm en vol blydskap kan klop. My wens is dat ons in die toekoms nog baie op Oudtshoorn kan doen deur die ReWOLusie.”

Boesak sê sy het besluit om by ReWOLusie betrokke te raak, omdat sy graag iets wou maak wat iemand in die gemeenskap regtig nodig het. “ReWOLusie maak my gelukkig, omdat ek saam met ander kan leer hoe om iets te brei vir die projekte wat ons aanpak. Aan die einde van ’n projek is ek baie trots daarop om die eindproduk van my handewerk te sien.”

Maritha Deenik, ReWOLusie-entoesias wat ander deurlopend met patrone en advies help, vertel oor haar deelname aan die Krismisboks-projek: “Dit maak my hartseer om te dink hierdie is dalk die enigste geskenk wat daardie kind kry, maar dit maak my terselfdertyd bly dat ek ’n gemeenskap van wollers kan bystaan en harte gelukkig maak.”

Deenik sê sy geniet dit om idees vir wolprojekte uit te dink en dat deelname aan ReWOLusie beslis ’n bydrae tot haar geestesgesondheid maak. “Ek ontmoet baie mense deur dié projek en het al baie vriende gemaak met wie ek my kennis kan deel. Ek geniet dit veral om ander mense te help en hulle te leer, terwyl ek ook nuwe idees kan uitdink.”

Alle wol speelgoed word teen 30 November by die KKNK se kantoor ingehandig en vrywilligers het op Vrydag 25 November vir ’n laaste keer bymekaar om die jaar op ’n sosiale noot af te sluit en finale afronding en hulp vir die beertjies te gee.

Dié beertjies en Krismisbokse word op 8 en 9 Desember 2023 by kleuterskole in die streek uitgedeel. Wol vir dié projek is geskenk deur Wilck Wolwinkel op Oudtshoorn.

 

ReWOLusie is ’n gemeenskapsprojek wat by die KKNK in 2019 die lig gesien het en skep ’n gevoel van behoort vir die vrywillige breiers deur deelname. Unieke items word met baie liefde, met deelnemers se eie hande geskep. Vaardighede word hier oorgedra en lewenslange vriendskappe gebou. Hierdie deelnameprojek word met trots deur die KKNK gefasiliteer en gee jaar na jaar terug in die Oudtshoorn en omliggende gemeenskappe.

ReWOLusie is in 2020 met die Blou Fiësta vir innovasie tydens die kykNET Fiëstas bekroon.