Vyf uitskieters word vanjaar deur die KKNK vereer

’n Formidabele akteur. Twee jong stemme. ’n Kunstenaar wat internasionaal naam gemaak het. ’n Radio-legende.

Vyf uitskieters in hulle onderskeie velde word vanjaar deur die KKNK vereer: Dawid Minnaar, Refentse, Early B, Liza Grobler en Magdaleen Krüger.

Die akteur Dawid Minnaar word vereer vir vertolking. “Om te vertolk is my werk. Natuurlik is dit ’n eer en ’n kompliment, maar ek spot altyd en sê jy moet net lank genoeg in die voorportaal rondhang voor jy ook ’n toekenning gaan wen. Ek wil nie klink of ek dit afmaak nie, maar jy moet dit in konteks sien. Dit wat ons doen, moet nooit as ’n kompetisie gesien word nie. Jy wen in elk geval nie, die rol wen dit. Jy is net die instrument. Ek sal dus die toekenning met grasie en ’n tikkie nederigheid aanvaar,” sê hy en lag hartlik. Minnaar is op die verhoog te sien in die Reza de Wet-drama Mirakel saam met onder andere Brümilda van Rensburg, asook in Die moeder saam met onder andere Sandra Prinsloo.

Refentse, wat as 17-jarige ontdek is toe ’n buurvrou in Vereeniging ’n selfoonvideo van hom geneem het, word vereer met die KKNK-toekenning vir ’n jong stem. Hy het reeds verskeie toekennings gewen en is een van die land se gewildste jong sangers. “Ek voel humbled,” sê hy oor die toekenning. “Die KKNK was my eerste fees, my eerste vertoning en die plek waar ek my eerste album vrygestel het. My plek van eerstes, my hart is ’n pot wat oorstroom met trots en nederigheid. Musiek was nog altyd vir die luisteraar en die KKNK was my eerste luisteraar. Dankie vir dié eer.” Refentse is op 1 April op die KKNK-opelugverhoog te sien in Amok 1.0 saam met onder andere Prime Circle.

Early B is die ontvanger van die KKNK Kruispunt-toekenning. “Dis iets regtig spesiaal vir my. Oudtshoorn én die KKNK is spesifiek spesiaal vir my omdat hierdie ’n fees is waarby ek altyd wou optree toe ek jonger was. Ek het soveel groei as ’n kunstenaar by hierdie fees ervaar en ek is dankbaar dat dit raakgesien word.” Early B is op 2 April op die KKNK-opelugverhoogn te sien in Amok 2.0 saam met onder andere YoungstaCPT.

Vanjaar se feeskunstenaar is Liza Grobler. Haar pad met kuns het in die noordelike voorstede van Kaapstad begin, ’n draai as kind in Amerika en Europa gemaak en eindelik ’n meestersgraad in skone kunste wat sy met lof aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. Daar was residensies in Noorweë, Finland, Amerika, Meksiko, Switserland, België en Frankryk met haar werk wat in verskeie korporatiewe- en privaatversamelings wêreldwyd opgeneem is. Sy woon die afgelope twee jaar op Oudtshoorn.

Vir haar uitstalling Inkommers, laatkommers en laatlammers werk sy nie net saam met die hekelaars van ReWOLusie nie, maar ook die krale-kunstenaars van Qaqambile Bead Studio en die span van die Karoo Kaarte-projek.

“Ek hoop besoekers aan die uitstalling sien dit as ’n ontdekkingsreis,” sê Grobler. “Hulle moet nie geïntimideer wees nie. Dis baie speels en daar is beslis oomblikke en elemente waarmee elkeen sal kan identifiseer. So die antwoord op die vraag: Wie mag die ruimte van Inkommers, laatkommer en laatlammers betree? Almal!” Grobler se uitstalling kan daagliks in die Prince Vintcent-gebou ervaar word.

Die voormalige hoof van RSG Magdaleen Krüger, word vereer vir haar lewensbydrae tot kuns en kultuur. Krüger het vir drie jaar skoolgehou, waarna sy by die ATKV as organiseerder van toneel en klassieke musiek aangesluit het. Daarna het sy haar loopbaan van 32 jaar by die SAUK as nuusskrywer en -verslaggewer by RSG begin, sy was inhoudskepper en regisseur, asook aanbieder van verskeie programme voor sy die stasiebestuurder geword het.

“Die toekenning van die KKNK beteken baie en ek aanvaar dit in nederige dankbaarheid,” sê sy. “Dit voel asof hierdie toekenning vir my sê jy het jou bes gedoen, dankie daarvoor. Jy het struikelblokke oorkom en jy het ’n sukses gemaak van dit wat jy aangepak het. En dat jou liefde vir die kunste, taal en ander kultuurdinge altyd stewige ondersteuning en lojaliteit van jou gekry het deur jou loopbaan.”

Moenie hierdie kunstenaars se werk van 1 tot 9 April by die 27ste KKNK, geborg deur Absa, op Oudtshoorn misloop nie. Die volledige feesprogram is beskikbaar by kknk.co.za en kaartjies kan aanlyn by Webtickets of jou naaste Pick n Pay bespreek word.

Vir meer inligting, kontak die KKNK per e-pos by info@kknk.co.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.