Dawid Minnaar: Van veldkonserte tot die groot verhoog

Sy eerste lewenslig was in Upington, maar sy wortels lê in die suide van Namibië op die plaas Rooikam. Dawid Minnaar noem homself ’n woestynkind, ’n laatlam wat van kleintyd moes leer waarheen jou verbeelding jou oral kan neem.

Sy eerste lewenslig was in Upington, maar sy wortels lê in die suide van Namibië op die plaas Rooikam. Dawid Minnaar noem homself ’n woestynkind, ’n laatlam wat van kleintyd moes leer waarheen jou verbeelding jou oral kan neem.

“Ek is die jongste van vyf en het as’t ware as enkelkind grootgeword,” sê hy. “Ek het ontvlugting gesoek in ’n ryk verbeeldingswêreld van my eie en dit was alles aan die landskap gekoppel. Ek het diere nagemaak, presies geweet hoe om my vlerke te vou wanneer ek as ’n voël kom land. Ek het in die veld rondgeloop en konsert gehou; Neil Diamond in ’n amfiteater van klip gesing. Deur akteur te word, het ek bloot ’n amptelike stempel op daardie tydverdryf afgedruk. Dit openbaar gemaak deur dit met ’n gehoor te deel.”

Vir hoërskool is hy Paarl toe gestuur waar hy vir vyf jaar ’n koshuisganger was en ’n leerling aan die Hoër Jongenskool, alombekend as Boishaai. “Kleintyd was my eie verbeelding of die storie op die radio die naaste wat ek aan drama gekom het. Daar was nie sprake van toneel of eisteddfods nie en dankie tog ons het nie ’n TV gehad nie.”

Ná ’n jaar in die weermag is hy Universiteit Stellenbosch toe vir ’n BA. “Ek het nie regtig geweet wat ek wou doen nie. Dalk geoloog of veearts, maar wiskunde was nie my sterkpunt nie. In my eerste jaar het ek begin deelneem aan sulke klein feeste wat hulle op kampus gehou het. Ek het die volgende jaar oorgeslaan na drama en weer my eerste jaar gedoen. Ná my graad het ek ’n honneurs by UCT gaan doen.”

Hy sê daar was nie ’n Damaskus-oomblik toe die besluit geneem is nie. “Dis asof dit jou kies en jy is eintlik magteloos teenoor die besluit.”

Stadig maar seker het Dawid homself gevestig as een van die grootste akteurs van sy tyd. Eers op die verhoog by Swaruk, daarna Kruik en met ’n trek na Johannesburg ook die Markteater en die Handspring Puppet Company. Ewe gemaklik in Afrikaans as Engels, op die verhoog of voor die kamera.

In 1991 kry hy die rol van Dolf Groenewald in die TV-reeks Konings, ’n karakter wat hy steeds so nou en dan genoem word. In 2000 sluit hy by die rolverdeling van 7de Laan aan as die argitek Leon de Lange en in 2007 klim hy in die skoene van dr. Franz Basson in Binnelanders. Ook ander dramareekse soos Sara se geheim, Legacy en Waterfront en rolprente soos Die wonderwerker en Poppie Nongena. Maar steeds is daar die roepstem na die teater met bekroonde produksies soos Ek, Anna van Wyk (in 1999 en weer in 2022, beide onder regie van Marthinus Basson), Die toneelstuk, Koninkryk van die diere, macbeth.slapeloos en by vanjaar se KKNK Mirakel asook Die moeder (onder regie van Christiaan Olwagen en waarvoor Dawid in 2022 die Woordfees-trofee as beste byspeler gewen het).

“Teater is die kern van jou ambag, die fontein van jou inspirasie. Teater bied jou die kans om te ontwikkel en omdat jy as kunstenaar ontwikkel, ontwikkel jy hopelik ook as mens. Vir my is die uitdaging van enige verhoogproduksie om daar te kom; om die kern van die karakter te kry.”

Sy pad met Reza de Wet, die skrywer van Mirakel waarin hy vanjaar die rol van Dante du Pré speel, kom reeds van 1986 toe hy onder leiding van Lucille Gillwald in Diepe grond was. “Daarna was onder meer Nag, generaal in 1988 – dit was die laaste keer dat ek saam met Sandra (Prinsloo) gespeel het voor ons nou weer in Die moeder is – en In a Different Light saam met Terry Norton, Andrew Buckland en Reza self.” In 1992 was Dawid en Anna-Mart van der Merwe die jong paartjie in Stephan Bouwer se produksie van Mirakel, met Patrick Mynhardt wat Du Pré gespeel het.

Oor die eerbewys wat hy vanjaar by die KKNK kry vir vertolking, dink hy vir ’n oomblik na. “Om te vertolk is my werk. Natuurlik is dit ’n eer en ’n kompliment, maar ek spot altyd en sê jy moet net lank genoeg in die voorportaal rondhang voor jy ook ’n toekenning gaan kry. Ek wil nie klink of ek dit afmaak nie, maar jy moet dit in konteks sien. Hierdie wat ons doen, moet nooit as ’n kompetisie gesien word nie. Jy wen in elk geval nie, die rol wen dit. Jy is net die instrument. Ek sal dus die toekenning met grasie en ’n tikkie nederigheid aanvaar,” sê hy en lag hartlik.

Later laat weet hy in ’n boodskap: “Akteurskap is vir my ’n nederige dog eerbare beroep. Onder meer bied dit my ook die geleentheid om momenteel uit te styg bo die vele krake in my karakter en my legio persoonlike tekortkominge. Deur ander werklikhede te betree, deur die ontsyfering van teks en deur gestalte te gee aan ander persona, soos geskep deur die dramaturg, veronderstel ek verteenwoordig dit ook ’n soeke na vervulling op ’n persoonlike vlak in kontras met die alledaagse lewe waar dit jou dikwels ontwyk of buite jou bereik bly.”

Dawid Minnaar. Meester op die verhoog en voor die kamera. Ontleder, leser, ewige student. Vertolker in die ware sin van die woord.