Refentse: Jong stem

Refentse Morake was 17 jaar oud toe hy op die sypaadjie voor sy ouers se huis in Vereeniging dit gedoen het waarvoor hy die liefste was: musiek maak. ’n Buurvrou het gevra of sy ’n video kan neem en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Nie net het hy een van die gewildste sangers in Suid-Afrika geword nie, hy het die een treffer na die ander gehad en was in 2017 die wenner van vier Ghoemas, onder meer vir Album van die Jaar vir My hart bly in ’n taal.

Wat beteken die KKNK-toekenning vir Jong Stem vir jou?

Ek voel humbled. Die KKNK was my eerste fees, my eerste vertoning en die plek waar ek my eerste album uitgereik het. My plek van eerstes, my hart is ’n pot oorstroom met trots en nederigheid. Musiek was nog altyd vir die luisteraar en die KKNK was my eerste luisteraar.
Dankie vir die eer.

Het jy al ooit gewonder hoe jou lewe sou lyk as dit nie vir daardie eerste video van die buurvrou was nie?
Ek wonder soms, dis moeilik om seker te wees. Een ding waarvan ek wel seker is, is dat ek nooit so gelukkig sou gewees het soos ek nou is nie.

Wat is die een ding in jou loopbaan waarop jy die trotste is? 

Ek is die trotste op die mense, almal wat my musiek luister en konserte bywoon, ek is trots op my span, al die mense in die kantore wat dit vir ons moontlik maak om musiek te deel, al die lede van my orkes wat saam met my die lyne van die pad deur die land volg. Die liefdegenerasie. Ons is besig met towerkuns.

Saam met wie sal jy nog graag wil werk? 

Ek is versot op Riana Nel en haar musiek en sal baie graag nog saam met haar wil werk.

As jy moet kies: ’n groot verhoog voor ’n groot gehoor of ’n kleiner, meer intiemer gehoor in ’n teater? 

Ek sou albei kies. Daar is niks beter as om op ’n groot verhoog te staan en luister hoe ’n oseaan mense jou lied saamsing nie. Behalwe dalk hoe dit voel om op ’n klein verhoog, voor ’n klein gehoor, geestelik naak te staan en vir vreemdelinge jou hart in woorde aan te bied. In hulle oë sien jy ’n nuwe betekenis van jou lied, een anders as jou sienswyse, maar tog soortgelyk. Vir my is dit ook towerkuns.

Wat hou jou in die nag wakker? 

Meeste van die tyd is dit gedagtes. Het die brein sy eie naam gekies? As my liggaam ’n tempel van die Here is en ek tel gewig op, brei ek nie dan die Here se koninkryk uit nie?

Watter talent sou jy graag nog wou hê?
Ek is jaloers op mense wat lekker kos kan maak. Daar is min dinge so kenmerkend aan die menslike ervaring soos goeie mense wat in gemeenskap oor goeie kos vergader.

Wat het die Suid-Afrikaanse, en daarmee saam die Afrikaanse, musiekbedryf die nodigste?

Tyd, net ’n bietjie tyd. Met die nuwe geleenthede wat ons nou geniet as gevolg van die opkoms van stromingsdienste is ons baie naby daaraan om ’n rolspeler in die internasionale mark te word.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?
Ek werk aan nuwe materiaal, ek sien baie daarna uit om die land vol te toer en my musiek in liefde met ons mense te gaan deel.

Waarna sien jy die meeste uit by vanjaar se KKNK? 

Roosterkoek! Ek spot, ek verlang na die hele fees. Ek was amper vier jaar laas by die KKNK.