Ervaar Africanacity by vanjaar se KKNK

Verskeie geleenthede word by vanjaar se KKNK geskep waar Absa by hulle kliënte en die gemeenskap betrokke raak in ’n omgewing waaroor hulle passievol is.

“Ons dink in alles wat ons doen altyd aan hulle ervaring en die KKNK is ’n ideale platform om ons Africanacity ten toon te stel. Ons is trots daarop om deur die fees weer eens tot die ontwikkeling van plaaslike en internasionale talent by te dra,” sê John Tshabalala, Absa hoof van die privaat bankwese-segment.

Die 27ste KKNK word van Saterdag 1 tot Sondag 9 April op Oudtshoorn aangebied, met Absa as trotse hoofborg van dié fees.

Absa het vanjaar tydens die KKNK se programbekendstelling aangekondig dat hulle hul KKNK-borgskap met ’n verdere drie jaar verleng en Tshabalala sê dié verlenging van Absa se vennootskap stel hulle in staat om ’n betekenisvolle impak in die Oudtshoorn-gemeenskap én die kunstebedryf in sy geheel te maak. Absa is reeds 21 jaar as borg by die KKNK betrokke.

“Met die ontsaglike geleenthede wat kunsfeeste vir Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling inhou, poog Absa steeds om inklusiewe groei in die kunste-omgewing moontlik te maak. Die KKNK is meer as net ’n borgskap vir Absa, dit is ook ’n geleentheid en gee ons ’n platform om opwindende en buitengewone aktiwiteite aan ons kliënte en die breër gemeenskap te bied.”

Feesgangers kan vanjaar saam met Absa kuier in die Absa Kuierkamer wat ’n nuwe tuiste in die Feesmark vind. Hier word verskeie aktiwiteite gehuisves met iets vir elke smaak. Besoekers kan hier kom ontspan en ’n blaaskans neem van die feesbedrywighede, terwyl hulle die eet- en drinkgoed wat te koop is geniet. Gaste in dié lugverkoelde ruimte het ook toegang tot gratis Wi-Fi en selfoonlaaistasies.

Die immergewilde Hannes van Wyk gesels van 5 tot 9 April om 11:00 hier met verskeie kunstenaars wat by die KKNK te sien is. Jy kan hulle beter leer ken, uitvind oor projekte waaraan hulle werk, wat hulle kreatiwiteit inspireer en ook meer oor hulle toekomsplanne in die bedryf hoor.

Daar word beweer dat “brei die nuwe joga is” en feesgangers kan by die Hekelhoekie in die Absa Kuierkamer aansluit, waar hulle saam met die Oudtshoorn ReWOLusie-span werk om ’n paar naalde in die hande te kry en te brei dat dit klap. Alle items wat tydens die fees geskep word sal geskenk word aan 67 Blankets for Nelson Mandela Day.

Opwip-kunsuitstallings is tydens die fees by die Absa-tak in Hoogstraat en in die Prince Vintcent-gebou te sien. Kunswerke deur jong inspirerende kunstenaars van regoor Afrika word ingesluit, saam met ’n keur van kunswerke uit Absa se korporatiewe kunsversameling wat selde te sien is.

Abongile Sidzumo, die Absa L’Atelier Gerard Sekoto-wenner van 2021, voltooi twee kunswerke by die fees terwyl feesgangers toekyk. Hierdie werke vorm deel van die raam-werksessies wat aan skoliere aangebied word. Professionele ramers is genooi om die werksessies aan te bied en twee leerders, met hul nuwe raamvaardighede, word gekies om Sidzumo se werk onder die waaksame oog van die ramers te raam. Dié werke word daarna opgeveil, ten bate van die raam-werksessie.

Absa se Voertuig- en Batefinansiering-span het met die plaaslike motorhandelaars van Nissan en Klein Karoo Toyota saamgewerk om hul voertuie tydens te fees uit te stal en John Deere stal ook verskeie van hulle trekkers hier uit.

Tydens die eerste KKNK Jeugkunstefees, bied Absa sessies vir die jeug aan, gefokus op finansiële opvoeding en werksgereedheid. Dié finansiële sessies sluit sleutelonderwerpe in soos begroting en hoe om krediet verstandig te gebruik, as deel van Absa se ReadytoWork-program. Erkenning word ook gegee aan onderwysers wat die Jeugkunstefees bywoon, met ’n spesiale middagete waar die werk van die uiters waardevolle opvoeders, erken en vereer word.

’n Aantal kunswerke is sedert 2018 deur die hart van Oudtshoorn versprei, as deel van Absa se Maakit Mooi-projek, om dié dorp se status as tuiste van die kunste in Suid-Afrika te vier.

“Verskeie Absa-bankdiensfasiliteite is tydens die fees beskikbaar, wat bystand bied in die vorm van die bank-op-wiele, strategies geplaas in die feesarea, asook verskeie gerieflike betaal-oplossings wat gebruik word. En indien daar enige navrae is, staan die toegewyde Absa-personeel ook gereed om enigiemand te help,” sluit Tshabalala af.

Die program vir die 27ste KKNK is beskikbaar by kknk.co.za en kaartjies kan aanlyn by Webtickets of jou naaste Pick n Pay gekoop word.