Ontmoet die feeskunstenaar: Liza Grobler

Vandat sy ’n kryt kon vashou, het Liza Grobler geskep. Haar pad met kuns het in die noordelike voorstede van Kaapstad begin, ’n draai as kind in Amerika en Europa gemaak en uiteindelik tot ’n meestersgraad in die skone kunste gelei, wat sy met lof aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

Daar was residensies in Noorweë, Finland, Amerika, Mexiko, Switserland, België en Frankryk met haar werk wat in verskeie korporatiewe en private versamelings wêreldwyd opgeneem is.

Vanjaar is sy die KKNK se Feeskunstenaar met die uitstalling Inkommers, laatkommers en laatlammers.

“My pa, Sias, was ’n wetenskaplike en my ma, Annatjie, was ’n musiekonderwyseres,” vertel Liza. “Ek was vier jaar oud toe my pa in Amerika gaan werk het en ons vir nege maande daar gewoon het. Ons was ook vir drie maande in Europa. Die dinge wat ek in daardie tyd gesien het, was baie anders as wat ek gewoond was. Net so iets eenvoudig soos hoe jy ’n paleis teken wanneer jy op laerskool is in vergelyking met die paleise wat ek in Europa gesien het. Dit het ’n blywende indruk op my gemaak.”

As jong tiener het sy klas geneem by Johan Crous en op hoërskool het sy nie net kuns en musiek as vakke gehad nie, maar ook ontwerp buitemuurs geneem. “Ek het baie gelees ook. Dit was in die laat 1980’s met Voëlvry en dinge wat losser geraak het. Wat vir my interessant was, was hoe literêr én visueel ’n taal kan wees. Ek glo hoe jy dink het baie te doen met jou verhouding met jou moedertaal.”

Sy het aanvanklik grafiese ontwerp studeer, maar in haar tweede jaar het sy oorgeslaan na skone kunste met Afrikaans-Nederlands as een van haar vakke. “My werk is ’n spel tussen taal, kuns en musiek.”

’n Besoek in die winter jare gelede aan ’n kêrel in Kimberley het nog ’n kunstige ambag by haar arsenaal gevoeg: hekel. “Kontekstuele tekstuur in my werk is belangrik, dat dinge in lae gevorm moet word. Alles is ’n dialoog, hoe dit saamgebind word om ’n eenheid te vorm.”

Vir Liza is om te skep “ ’n bietjie van ’n verslawing”, antwoord sy op die vraag hoekom sommige mense dit regkry om heeltydse kunstenaars te wees en ander nie. “Om aan te gaan, moet jy die kompulsie hê. Ek het ook heeltyds gewerk en ander dinge gedoen, maar deursettingsvermoë en obsessie het op die ou end gewen. Daar was tye toe ek jonger was wat ek amper glad nie geslaap het nie. Jy moet hard werk aan jou ambag. As ek nie skep nie, is ek van balans af. Dit is hoe ek sin maak uit die lewe.”

Sy is in ’n beter posisie as tien jaar gelede, erken sy. “My seun, Storm, is ’n tiener en ek is gevestig. Ons skuif na die Klein Karoo het ook op die regte tyd gekom.”

Vir Liza en haar gesin het die legkaartstukkies die laaste paar jaar op ’n bykans magiese manier in plek geval. Sy en haar man, die kunstenaar Norman O’Flynn, en Storm het vir lank in ’n skakelhuis in Woodstock, Kaapstad, gewoon. Met die pandemie kon sy

en Norman nie soos gewoonlik in hulle ateljees gewerk het nie en die ruimte by die huis het knap geraak. Sy het vroeër ’n rolprent oor die Groot Karoo gemaak en wou een oor die volstruispaleise in Oudtshoorn maak. Die strande was toe en die gesin het besluit om eerder Klein Karoo toe te gaan met vakansie. Neem al hierdie elemente en die uiteinde is die gesin wat twee jaar gelede Woodstock vir Oudtshoorn verruil het.

“Ons woon in die hart van die dorp. Hier is goeie skole en infrastruktuur. Ons is ’n uur van die see, ’n uur van berge, ’n uur van die waterval. Die dramatiese seisoene is mooi om dop te hou en my werk het meer op die landskap begin fokus. Dis asof ek hier die horison kan síén. My eie ruimte het oopgemaak omdat die lug so groot is en dit het alles ’n impak op en verskuiwing in my werk veroorsaak.”

Vir haar uitstalling Inkommers, laatkommers en laatlammers werk sy nie net saam met die hekelaars van ReWOLusie nie, maar ook die krale-kunstenaars van Qaqambile Bead Studio en die span van die Karoo Kaarte-projek.

“Ek hoop besoekers aan die uitstalling sien dit as ’n ontdekkingsreis. Hulle moet nie geïntimideer wees nie. Dis baie speels en daar is beslis oomblikke en elemente waarmee elkeen sal kan identifiseer. So die antwoord op die vraag: Wie mag die ruimte van Inkommers, laatkommers en laatlammers betree? Almal!”