Bettie Kemp nou te sien in “Mirakel” by KKNK

Die 27ste KKNK, geborg deur Absa, skop Saterdag 1 April op Oudtshoorn af. Een van dié fees se vlagskipdramas is Reza de Wet se Mirakel, onder leiding van Marthinus Basson.

“Brümilda van Rensburg, wat die rol van Salomé in dié produksie teenoor onder andere Dawid Minnaar sou speel, het ongelukkig haar arm gebreek en kan nie meer dié rol vertolk nie. Die vertoning gaan voort en ons is besonders bevoorreg om die welbekende en geliefde aktrise en aanbieder, Bettie Kemp, tot die geselskap te verwelkom, wat nou dié rol oorneem. Dit is belangrik dat Brümilda se arm volkome herstel, maar sy is braaf en dit gaan reeds beter. Ons wens haar alle sterkte in die herstelproses toe.” So sê Hugo Theart, artistieke direkteur en uitvoerende hoof van die KKNK.

Kemp is ’n bekende en bekroonde aktrise, radio- en TV-aanbieder en regisseur van dramas en dokumentêre programme. Sy ontvang onder meer die kykNET Fiësta vir beste vroulike byspeler vir haar vertolking in Dood van ’n verkoopsman in 2011.

Van Rensburg sê sy het geweldig daarna uitgesien om saam met al die akteurs en Basson aan hierdie produksie te werk. “Dit was ’n voorreg om saam met almal te werk. Weens die breek in my arm kan ek ongelukkig nie met die produksie voortgaan nie. Dit is vir my baie hartseer, want ek was opgewonde om weer op die verhoog te wees, maar moet nou eers herstel. Ek weet egter dat gehore soveel vreugde uit die produksie sal kry, as wat ek gehad het om daaraan te werk,” sê sy.

Dawid Minnaar, vanjaar se KKNK-vereerde vir vertolking, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith en Eben Genis is saam met Kemp op die verhoog te sien. Mirakel is tussen 1 en 8 April in die Johnny Bisschoff-saal op die planke. Kaartjies vir hierdie en ander produksies is aanlyn by Webtickets, of Pick n Pay beskikbaar. Die volledige KKNK-program is beskikbaar by www.kknk.co.za.

Vir meer inligting, kontak die KKNK per e-pos by info@kknk.co.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

Mirakel is ’n Feesteforum-produksie, vervaardig deur die KKNK en word moontlik gemaak deur NATi.

Dis 1938. Met die Depressie sukkel mense om te oorleef. ’n Teatergeselskap onder die leiding van die befaamde akteur Dante du Pré bevind hulle in ’n klein dorpie in die hoop om ’n bietjie verligting te bring met ’n opvoering en sodoende ook die baie leë geldkoffer weer ’n bietjie aan te vul. Maar een van die spelers, die jong Abel, kom oorspronklik van die dorp en is steeds getroud met die stinkryk en heelwat ouer, Anna. Maar sy liewe Lenie verwag nou sy kind. Dan daag Anna op met ’n mandjie vol kos en die verhongerde geselskap moet begin kies tussen oorlewing en verraad, idealisme en realiteit. Hierdie bittersoet komedie uit die pen van die magiese Reza de Wet is nog steeds net so vars en in gesprek met ons huidige realiteit ná Covid-19 en ’n steeds tuimelende ekonomie.