‘Droomkraan kronieke’ bou ’n argief vir die stories van Oudtshoorn

Droomkraan kronieke is ’n fees vir die sintuie. Hierdie eksperimentele fisiese teaterstuk is ’n projek deur die Karoo Kaarte-geselskap wat deel vorm van ’n argief van Oudtshoorn se oudste en mooiste stories.

Droomkraan kronieke is ’n fees vir die sintuie. Hierdie eksperimentele fisiese teaterstuk is ’n projek deur die Karoo Kaarte-geselskap wat deel vorm van ’n argief van Oudtshoorn se oudste en mooiste stories. 

Die toneelstuk is ’n merkwaardige ondersoek na die verbintenis tussen kultuur en plek. Die teks is die resultaat van ’n ambisieuse navorsingstaak waartydens die geselskap meer as 100 onderhoude met inwoners van die Oudtshoorn-omgewing gevoer het. Hierdie mondelinge oorvertellings is tot toneelteks verwerk en vermeng met elemente van dans, sang, klank en kuns. Die eindproduk is fenomenaal. Daar is ’n teerheid omtrent die stories wat met soveel deernis en respek op die verhoog vasgevang word. Elkeen van die akteurs bring ’n unieke energie en teenwoordigheid tot die ervaring. Boonop is daar ’n ongelooflike sinergie tussen die ensemble as ’n geheel – nie net tussen die deelnemers op die verhoog nie, maar ook die tegniese en visuele span agter die skerms. 

’n Hoogtepunt is die slim gebruik van beligting deur met lig en skaduwees te speel via truprojeksies. Hierdie tegniek is eenvoudig, maar besonders treffend. Die stel is soortgelyk minimalisties en dit is meer as genoeg – die talent en stories is so sterk dat geen tierlantyntjies nodig is om vir enigiets te kompenseer nie. 

Droomkraan kronieke is ’n moet-sien. Carlo Daniels is briljant en al die inkommers verstom. Die fasiliteerders (teatermaker Neil Coppen en visuele kunstenaar Vaughn Sadie) het meesterlike werk verrig. Dit is veral opvallend hoe die geselskap mekaar respekteer en ruimte hou vir uiteenlopende perspektiewe en leefervaringe. 

Karoo Kaarte is ook met ’n magdom bykomende projekte besig, onder meer kunsuitstallings, musiekoptredes, storievertelsessies, ’n kinderboek, ’n zine wat inheemse speletjies bevat en menigte ander vorme van argiefbou vir die stories van Oudtshoorn. As jy in die omtes is, gaan maak ’n draai by die Karoo Kaarte-projekruimte op die hoek van Baron van Reede- en Kerkstraat.

Bespreek jou kaartjies hier: http://lifesagrind.com/en/programme/my-kroon-se-krank/ 

The Art Stories Incubator is enabled by PESP-3, BASA and the Department of Sport, Arts and Culture.