‘My kroon se krank’ is ’n wordingsreis

In hierdie stuk word ’n reeks temas aangeraak en laat die kyker twee keer dink oor kwessies soos problematiese skoonheidstandaarde, rassisme, identiteit en waarom ons dit so dikwels nodig ag om onsself te verander om in te pas. Is dit die moeite werd om “gehoorsaam” te wees as dit ten koste van jouself is? 

Die vertelling van drie vroue-karakters Aunt Pat, Debbie en Roxanne se stories in My kroon se krank, en meer spesifiek hulle verhouding met hulle hare, is meesterlik behartig deur skrywers Veronique Jephtas en Lynthia Julius, met regie deur Tinarie van Wyk Loots. Deur die uitbeelding van hierdie drie karakters kry die kyker ’n blik op die kompleksiteit van die verhoudinge tussen verskillende generasies van vroue en elkeen se onderskeidelike wyse van omgaan met hulle herkoms. 

Jephtas vertolk die rol van al drie vroue, en deur ’n soomlose afwisseling van taal/dialek, liggaamstaal en kostuum gee Jephtas die geleentheid aan die gehoor om elke karakter en hulle persoonlike struwelinge te leer ken. ’n Reeks van temas word aangeraak, onder meer die vraag oor ’n plek van behoort, woke-wees, geloof en bygelowe, die Suid-Afrikaanse politiek, rasse-verhoudinge en die verlede. 

Die invalshoek van die produksie – die feit dat natural hare ná die aankondiging van Zozibini Tunzi as die 2019-Mej Heelal die nuwe in-ding is – is effektief en laat die kyker twee keer dink oor kwessies soos problematiese skoonheidstandaarde, rassisme, identiteit en waarom ons dit so dikwels nodig ag om onsself te verander om in te pas. Is dit die moeite werd om “gehoorsaam” te wees as dit ten koste van jouself is? 

Een van die hoogtepunte van hierdie produksie is beslis die spoken word-aard van die karakter Debbie se monoloë. Gesamentlik met dié poëtiese aanbieding is die stel ook in die besonder doelmatig ontwerp. Debbie maak telkens haar verskyning voor in die middel van die verhoog waar daar ook, wat lyk soos, hare op die vloer versprei is. Hierdie rekwisiet word vernuftig ingespan as visuele medium om Debbie se vertelling te staaf en daarvan ’n visserale ervaring te maak. Daarsonder sou die produksie my insiens nie dieselfde trefkrag gehad het nie.

Hierdie produksie is ’n wordingsreis van drie karakters. Dit is ’n herinnering om raakpunte te vier en verskille te respekteer. 

Bespreek jou kaartjies hier: http://lifesagrind.com/en/programme/my-kroon-se-krank/ 

The Art Stories Incubator is enabled by PESP-3, BASA and the Department of Sport, Arts and Culture.