Is dit nodig dat Hans die Rubicon oorsteek?

Deur te oordeel hoe hard die gehoor vir die 80-minute-lange vertoning gelag het, blyk dit dat daar baie mense is wat dit wel geniet het. Die toneelstuk het beslis potensiaal om ’n ligte, lekker-lag, kyk-met-’n-halwe-oog fliek te maak.

Die konsep van Hans steek die Rubicon oor is belowend: die lewenslustige en eiewys Hans word op 90-jarige ouderdom deur sy kinders na ’n ouetehuis gepos. Tussen sy baasspelerige dogter en die skoolkoshuisagtige reëls van Huis Madeliefie voel Hans van sy vryheid beroof, en hy bedink die een plan na die ander om uit die ouetehuis te ontsnap. Hy span kragte saam met ’n paar mede “Madies” om die diktatoriale matrone se leierskap omver te gooi en hulle mannewales laat hulle keer om keer in die sop beland. 

In praktyk laat dié toneelstuk egter veel te wense oor. Die humor is goedkoop, die karikature is oordrewe en die teks is veels te lank. In die eerste helfte het ek my probeer oortuig dat die stuk wel aanklank kan vind by ’n bepaalde gehoor, maar met elke grappie en easy-out punchline wat homself herhaal, het ek Patricia Lewis harder in my oor hoor fluister dat hierdie ster…….. geval het. 

Akteur Charlie Bouguenon, wat alleen op die verhoog te sien is, verdien prys vir sy vermoë om om en by tien verskillende karakters te speel. Hy beweeg seepglad tussen die karakters se persoonlikhede, spreekvorme, postuur en maniërismes sodat daar nooit enige twyfel bestaan oor wie aan die woord is nie. 

Heelwat van die one man show se “grappies” het my egter ongemaklik laat rondskuif, veral die namaak van streekstaalvariante… 

Deur te oordeel hoe hard die res van die gehoor vir die 80-minute-lange vertoning gelag het, blyk dit dat daar baie mense is wat dit wel geniet het. Die toneelstuk het beslis potensiaal om ’n ligte, lekker-lag, kyk-met-’n-halwe-oog fliek te maak (’n rolprentverwerking van Hans steek die Rubicon oor verskyn na verwagting hierdie jaar as ’n kykNET-projek). 

As deel van ’n kunstefeesprogram sou ek tog hoop om aan toneel blootgestel te word wat ten minste in een opsig vernuwend en uitdagend is. 

Hier is meer inligting: http://lifesagrind.com/program/hans-steek-die-rubicon-oor/

The Art Stories Incubator is enabled by PESP-3, BASA and the Department of Sport, Arts and Culture.