You feel seen, but also exposed: Mandri Sutherland se ‘Vrou ens.’

Dié skrywer en akteur verstaan die psige van die Afrikaner van binne en buite en speel op ’n baie slim wyse daarmee. As jy lus is vir ’n ontspanne, komiese maar ook ’n insigryke produksie wat met liefde die spot dryf met die Afrikanerkultuur (in Oudtshoorn nogals), moet jy beslis hierdie stuk gaan kyk.

Haai Sussa, verwag drama! 

Mandri Sutherland is baie veelsydig, soveel so dat jy nie mooi weet wanneer sy in karakter is en wanneer nie. Met die aankom by haar eenvroustuk Vrou ens. is ’n mens nie seker of die aktrise werklik besig is om ’n moerige diva te wees of nie (“Die gaste is laat! Ek is moeg! Ek gaan hierdie maar probeer doen sodat ons vroeg klaarmaak.”) Die gaste was effens ontsenu, maar definitief vasgevang in die interaktiewe ruimte wat sy skep.

Mandri het opgang gemaak met haar huiskonserte en het al meer as 40 keer in die leefruimtes van mense oor Suid-Afrika heen opgetree. By die KKNK speel haar produksie af onder ’n boom agter die Thorny Creek Brewery, ’n restaurant wat maar al vir ses weke oop is. Hierdie nuwe eet- en kuierplek is ’n goeie spot om af te saal, veral vir Mandri se show met ’n bier in die hand.  

Dié skrywer en akteur verstaan die psige van die Afrikaner van binne en buite en speel op ’n baie slim wyse daarmee. In Vrou ens. kombineer sy storievertelling en uitspattige karaktervertolking van stereotipiese vrouens wat die akteur irriteer en inspireer. “Sy belig en gooi liefde, humor en vet op die Afrikanervrou se besware en waarhede,” lui die stuk se beskrywing. Sy skakel moeiteloos tussen karakters met die hulp van verskillende uitrustings en slim gebruik van haar omgewing. My gustelingkarakter is die meisie van Kommetjie wat Afrikaans versaak het vir haar wit Porsche Cayenne en ’n dieet van psilocybin.

Almal is inspirasie vir haar content, of content vir haar inspirasie. Jy sal dele van jouself in die produksie raaksien. You feel seen, but also exposed. Sommige gehoorlede het ongemaklik rondgeskuif soos sy tipiese taboeonderwerpe vlymskerp onder die mat uitpluk en rondswaai. Sy lees ook haar kykers en betrek die gehoor – niemand ontsnap ongesiens nie.

As jy lus is vir ’n ontspanne, komiese maar ook ’n insigryke produksie wat met liefde die spot dryf met die Afrikanerkultuur (in Oudtshoorn nogals), moet jy beslis hierdie stuk gaan kyk. Jy ken haar dalk van Instagram af, maar sy moet live beleef word. Mandri is iets besonders en heilsaam daarby. 

Meer inligting en kaartjies: http://lifesagrind.com/program/vrou-ens/ 

The Art Stories Incubator is enabled by PESP-3, BASA and the Department of Sport, Arts and Culture.