Boekgesprek: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems

Die Kaapse Moslems het reeds byna ’n eeu voor die eerste “Afrikaners” Afrikaans gehandhaaf, en dit is ’n belangrike feit om van kennis te neem.

Daniel Hugo, digter, vertaler en gespreksleier van die insiggewende gesprek oor die Afrikaans van die Kaapse Moslems, gesels met Shihaam Domingo, kreatiewe vervaardiger in die vermaaklikheidsbedryf, en prof Hein Willemse, skrywer en akademikus.

Willemse en Suleman Dangor het die verwerking van Achmat Davids, ’n gesiene figuur in die Kaapse Moslem-gemeenskap, se boek The Afrikaans of the Cape Muslims (1991) behartig. Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (2018) is vertaal deur Danie C Botha. Dit is uitgegee deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA).

Die geskiedenis van die Kaapse Moslems is een waarvan soveel Afrikaanssprekendes onbewus is. Willemse vertel hoedat ‘Abdullah Ibn Qadi ‘Abd ul-Salam, later bekend onder die Kaapse Moslems as Tuan Guru (Grand Teacher), aanvanklik in die geheim sy geloof moes beoefen omdat die VOC dit destyds verban het om enige ander geloof as Christendom aan te hang. Tuan Guru is uiteindelik na Robbeneiland gestuur vanweë sy verset teen die VOC, en daar het hy die Koran van geheue af neergeskryf.

Die streng maatreëls aangaande geloofsbeoefening is verslap met die Britte se inname van die Kaap, wat aanleiding gegee het tot die eerste Madrasa wat in die Kaap gebou is. Domingo beskryf die Madrasa as ’n plek waar Moslem-kinders nie net meer van hulle geloof en herkoms geleer is nie, dis ook waar hulle geleer het om te lees en skryf. 

Die taal wat gebesig is gedurende hierdie tydperk in die Kaap onder die onderklasse, en hier kan die Bo-Kaap as sentrum uitgelig word, was ’n vermenging van Kaaps en Hollands, terwyl Engels die taal van die staat geword het en tale soos Maleis aan die uitsterf was. Dit het gelei daartoe dat Kaaps-Hollands in die Madrasa-onderwys gebruik is, maar dis in Arabies met behulp van spesifieke skriftekens geskryf – vandaar die ontstaan van Arabies-Afrikaans. Interessant dat die skriftekens gebruik is omdat dit in Arabies gebruiklik is om altyd ’n vokaal tussen twee konsonante te plaas. Om ruimte te maak vir Afrikaans is die skriftekens dus gebruik in woorde waar daar twee konsonante langs mekaar verskyn.

Die neiging om taal te stigmatiseer, veral tale wat nie as die statustaal gesien word nie, is een van die oorsake daarvan dat hierdie geskiedenis nooit deeglik in hoofstroomonderrig opgeneem is nie. Die Kaapse Moslems het egter reeds byna ’n eeu voor die eerste “Afrikaners” Afrikaans gehandhaaf, en dit is ’n belangrike feit om van kennis te neem.

Vir meer inligting oor die gesprek oor Die Afrikaans van die Kaapse Moslems besoek: http://lifesagrind.com/program/die-afrikaans-van-die-kaapse-moslems/ 

The Art Stories Incubator is enabled by PESP-3, BASA and the Department of Sport, Arts and Culture.