‘Mirakel’ wys hoe dit lyk om te ly vir jou kuns

Onder leiding van teaterlegende Marthinus Basson wys Dawid Minnaar (Dante du Pré), Bettie Kemp (Salomé), Rolanda Marais (Anna), Edwin van der Walt (Abel), Carla Smith (Lenie) en Eben Genis (Antoine) aan die gehoor hoe dit lyk om werklik te ly vir jou kuns.

In die magies-realistiese Mirakel, ’n drama binne-in ’n drama, bevind ’n teatergeselskap hulself in ’n vervalle Vrystaatse Rooms-Katolieke kerk in die jaar 1936. Gepas dat hierdie geselskap die mirakelspel Elkeman – ’n laat-middeleeuse drama-genre oor wonderwerke – uitvoer, wyl dít juis is waarop hulle wag, ’n wonderwerk.

Terwyl hierdie Reza de Wet-toneelstuk natuurlik sal spreek tot die kunstenaars en akteurs in die gehoor, is hulle nie die enigste mense wat hierby sal aanklank vind nie. Met die huidige omstandighede wat armoede en swaarkry betref in nie net Suid-Afrika nie maar die ganse wêreld, is hierdie uitbeelding van die post-Depressie-era nog net so relevant as wat dit was toe De Wet se Hertzog-bekroonde Mirakel oorspronklik in 1993 uitgegee is as deel van haar Vrystaat-trilogie (waarvan Drif en Mis ook deel uitmaak).

Hierdie toneelstuk is ’n verkenning van ’n wêreld waarin daar van die “gewone” afgesien is in ruil vir ’n lewe in die teater. Dit is ’n speling tussen idealistiese en realistiese idees, droom en werklikheid, lig en donker. Die slim manier waarop net-net nie genoeg inligting weergegee word vir die gehoor om definitief te weet of wat gebeur wel die toedoen van bonatuurlike magte is nie, is uiters doeltreffend. Dié onheilspellendheid en by tye byna groteske word om die beurt, met die perfekte tydsberekening, afgewissel met fyn humor, wat uitloop op ’n toweragtige spel waardeur die kyker verbysterd gelaat word. 

In ’n tyd ná die Covid-pandemie, wat almal op die een of ander wyse geraak het, word daar onder meer in hierdie interpretasie van die stuk gevra: Watter keuse is daar anders as “the show must go on”, en hoe ver kan dit jou werklik bring om te “fake it till you make it”? Onder leiding van teaterlegende Marthinus Basson wys Dawid Minnaar (Dante du Pré), Bettie Kemp (Salomé), Rolanda Marais (Anna), Edwin van der Walt (Abel), Carla Smith (Lenie) en Eben Genis (Antoine) aan die gehoor hoe dit lyk om werklik te ly vir jou kuns.

Let wel, ’n waarskuwing is by die omskrywing van hierdie stuk gevoeg: “Teks bevat woorde wat aanstoot kan gee binne die konteks van historiese tyd en karakters.” 

Om meer uit te vind oor Mirakel lees: http://lifesagrind.com/program/mirakel/

The Art Stories Incubator is enabled by PESP-3, BASA and the Department of Sport, Arts and Culture.